Ons navorsing

Oorsig

Navorsing by UPSET word verdeel in drie subprogramme wat op hulle beurt weer in verskeie navorsingsprojekte georganiseer is. Die subprogram Toegepaste Linguistiek word deur Prof Susan Coetzee-van Rooy gelei en fokus op twee temas: meertaligheid en akademiese geletterdheid. Die subprogram Taalpraktyk word deur dr. Herculene Kotze gelei en fokus op vertaling, redigering, die skryf van onderskrifte en tolking. Die subprogram Beskrywende Linguistiek word deur dr. Johanita Kirsten gelei en gebruik hoofsaaklik ’n korpuslinguistiek-benadering vir die studie van Afrikaans en inheemse en nie-inheemse variëteite van Engels vanuit gebruiksgebaseerde perspektiewe. Die drie subprogramme deel metodologieë deur die gebruik van oognasporing en korpusse, terwyl daar kruisbestuiwing is tussen oplossings op navorsingsprobleme wat in een domein ontwikkel is en metodologieë en perspektiewe wat uit ’n ander domein betrek word.

Toegepaste Linguistiek

Die subprogram Toegepaste Linguistiek fokus op die meertalige agtergrond in Suid-Afrika en ondersoek die implikasies hiervan vir die keuse van tale en die uitdagings wat gewone taalgebruikers in hulle alledaagse lewens teëkom, insluitende die deel van hulle lewens wat as studente aan universiteite deurgebring word.

In die meertaligheidsprojek word die keuse tussen tale in verskillende domeine ondersoek asook die verandering van keuses met die verloop van tyd. Die tale sluit die amptelike tale van Suid-Afrika in, maar ook die tale wat deur immigrante na Suid-Afrika gebring is, en tale soos Fanagalo wat met spesifieke domeine geassosieer word. In die akademiesegeletterdheidsprojekte word studente se akademiese lees- en skryfvermoëns ondersoek, asook toepaslike metodes om daardie vermoëns te toets.

Taalpraktyk

Die subprogram Taalpraktyk ondersoek die prosesse en produkte wat uit die aktiwiteite van taalpraktisyns spruit. Die produkdata sluit korpusse in van vertaalde en onvertaalde tekste, geredigeerde en ongeredigeerde tekste, asook van gebaretaal en hoftolking. Prosesdata, wat dikwels deur middel van oognasporing en/of ’n elektro-ensefalogram (EEG) ingesamel word, verskaf inligting oor hoe kykers onderskrifte lees, hoe mense vertalings lees, of hoe vertalers en redigeerders vertaling en redigering uitvoer. Navorsers wil ’n dieper begrip ontwikkel van hoe hierdie prosesse werk, en wat die eienskappe van die produkte vanuit eindgebruikers se perspektief is. Die doel van projekte in taalpraktyk, wat ’n fokus op tolking en die skryf van onderskrifte insluit, is om benewens die beskrywende en teoretiese doelwitte, ook riglyne vir verbeterde opleiding en praktyke te bied.

Beskrywende Linguistiek

In die subprogram Beskrywende Linguistiek fokus ons op werklike taaldata wat vanuit ’n verskeidenheid omgewings verkry word, soos gewone skryfwerk en spraak, en korpusse van geskiedkundige geskrifte, terwyl ons ook op vertaalde en geredigeerde tekste, in teenstelling met onvertaalde en ongeredigeerde tekste, met navorsers in taalpraktyk saamwerk. Ons ontwikkel grammatikale beskrywings van eietydse Afrikaans en Engels en kyk ook na die geskiedkundige ontwikkeling van hierdie tale, terwyl ons terselfdertyd linguisties-teoretiese konstrukte in ’n breë funksionele/gebruiksgebaseerde benadering verfyn. Die Beperkte Taal-projek voer vergelykende taalkundige navorsing op geskrewe, gesproke, vertaalde en geredigeerde taal uit om modelle van taalstruktuur en taalgebruik te ontwikkel wat die eienskappe van taal regoor so ’n verskeidenheid kontekste verduidelik.