Tuis

 

Verstaan en Verwerking van Taal in Komplekse Omgewings, of kortliks UPSET, is ’n navorsingsfokusarea met lede regoor die drie kampusse van die Noordwes-Universiteit. Die navorsingsentiteit ondersoek hoe mense taal in die komplekse, meertalige opset van Suid-Afrika gebruik.

Ons skram nie weg vanongewone taalvorme nie en beperk onsself beslis nie tot enige mitiese, en waarskynlik niebestaande, moedertaalspreker in een of ander fiktiewe homogene spraakgemeenskap wie se taal nie deur sogenaamde irrelevante faktore soos menswees of ’n bestaan in die werklikheid beïnvloed word nie.​

Taalpraktyk (vertaling, redigering, skryf van onderskrifte, tolking, en selfs nog meer) is een van die komplekse omgewings waarin ons werk. Ons wil bepaal hoe tekste van een omgewing in een kode na ’n ander beweeg terwyl dit steeds sin maak (of nie), en hoe hierdie verskillende tekste wat oorgedra word mense in staat stel om met groter gemak aan die samelewing en akademiese omgewing deel te neem.

Ons ondersteun die meertalige aard van die Suid-Afrikaanse samelewing, en neem aan dat die meeste samelewings meertalig is. Enige toegepaste taalkundige ondersoek moet dus berus op die outentieke konteks van die taalkundige werklikheid waarin ons leef. Ons navorsing oor taalverwerwing, die instandhouding daarvan, taalbeleid, taalonderrig, lees en skryf, en akademiese geletterdheid betrek die meertalige konteks waarin ons leef.

Suid-Afrika blyk’n uitstekende laboratorium te wees van ’n taalkontakopset waar inheemse en koloniale tale met mekaar in aanraking kom en mekaar beïnvloed. Ons ondersoek die linguistiese gevolge van deurlopende taalverandering, en kyk veral na Engels en Afrikaans, aangesien hulle in die afgelope twee eeue in Suid-Afrika gevorm is en verander het. Ons versamel korpusse en interpreteer die data vanuit gebruiksgebaseerde perspektiewe om daardeur by te dra tot dieontwikkeling van ons “Beperkte Taal”-raamwerk wat ondersoek instel na linguistiese, individueel-psigolinguistiese en sosiale beperkings wat linguistiese vorme bepaal.