Baccalaureus Artium-Programme

’n Baccalaureus Artium (BA) is ’n breë interdissiplinêre voorgraadse graadprogram wat algemene opleiding, keusevakke en ’n hoof-studiegebied omvat. BA-programme gee studente oor die algemeen meer buigsaamheid in die keuse van modules (vakke) en is minder gespesialiseerd as Baccalaureus Scientiae-programme (BSc-programme). Die moontlikheid om modules uit die kunste en die geesteswetenskappe te kies, stel studente in staat om hulle kulturele begrip en bewustheid te verdiep, en om ook analitiese, kritiese denke en skriftelike en kommunikasievaardighede te ontwikkel.

Daar is op elke kampus verskeie BA-programme om uit te kies. Sommige het gespesifiseerde hoofvakke, terwyl ander jou toelaat om een of meer hoofvakke te kies. Jy kan een van die volgende programme kies:

Opsies vir hoofvakke

  • Erfenis- en Kultuurtoerismebestuur (PK)

Die beduidende groei van die toerismebedryf oor die afgelope paar jaar skep verskeie geleenthede vir werk. Toerismebestuurders en -bemarkers is nie net ambassadeurs vir Suid-Afrika nie, maar skep ook groei deur produkontwikkeling, bestuur en bemarking. Hierdie kursus berei jou dus voor vir ’n dinamiese bedryf waarin jy jou idees, vaardighede en vermoëns kan aanwend.

  • Sosiologie en Geografie (PK)

’n Studie van Sosiologie verskaf insigte in die struktuur, dinamika, norme, waardes, magsverhoudings en instellings in samelewings en gemeenskappe. Sosiologie ondersoek ook die samelewing se verhouding met die sosiale en fisiese omgewings en die impak wat die samelewing se aksies op die omgewing het, en omgekeerd. Geografie gee aan studente die geleentheid om biofisiese prosesse te ondersoek – van vulkaniese uitbarstings tot oorstromings en grondverskuiwings – en om die menslike prosesse te bestudeer wat vorm gee aan stede, state en gemeenskappe, en dit alles teen die agtergrond van ’n veranderende klimaat. Hierdie kombinasie van hoofvakke gee aan jou die geleentheid om die fisiese omgewing waarmee die mens te doen het, beter te verstaan, en om ’n begrip te vorm van die invloed wat die samelewing op hierdie omgewing het.

  • Sosiologie en Arbeidsverhoudingebestuur (PK)

Die studie van werk is lankal ’n sentrale onderwerp in Sosiologie. Groot veranderings het egter al sedert die 1970’s in die omgewing van werk en indiensneming voorgekom as gevolg van onder andere globalisasie, die groei van die dienssektor, die verswakking van die burokratiese model en tegnologiese vordering. Hierdie graad fokus op ’n begrip van die implikasies van tendense in tegnologiese vooruitgang, globalisasie, arbeidsmarkte, voorwaardes en dimensies van werk, bestuurspraktyke en werksverhoudinge.

  • Sosiologie en Sielkunde (PK)

Sielkunde en Sosiologie gaan hand aan hand – hulle behels albei die wetenskaplike studie van mense. Sielkunde behels die studie van ’n individu se denke en funksies wat met gedrag verband hou, terwyl Sosiologie die studie van die funksionering van ’n groep en hulle kollektiewe gedrag behels. Hierdie gesamentlike graad bied aan studente die geleentheid om hoofsaaklik Sosiologie te bestudeer terwyl hulle hulle begrip van die sosiale lewe deur die studie van Sielkunde verbreed.

Graadopsies

  • BA met Erfenis- en Kultuurtoerismebestuur (PK)
  • BA met Sosiologie en Arbeidsverhoudingebestuur (PK)
  • BA met Sosiologie en Geografie (PK)
  • BA met Sosiologie en Sielkunde (PK)

Alle grade is driejaarprogramme en word voltyds slegs by ons Potchefstroomkampus (PK) aangebied.

Toelatingsvereistes

  • TPT van 22
  • Klik asseblief hier om na die TPT-berekenaar te gaan.

Kernvakke

’n Kombinasie van:

  • Sosiologie
  • Geografie
  • Geskiedenis
  • Toerismebestuur
  • Politieke Studie
  • Bedryfsielkunde of Statistiek
  • Arbeidsverhoudingebestuur
  • Bedryfsielkunde
  • Sielkunde
  • Ondernemingsbestuur
  • Statistiek

Loopbaangeleenthede

  • Argivaris
  • Konsultant
  • Museumkundige (kurator, bestuurder)
  • Navorser
  • Onderwyser (LW: wanneer dit met ’n nagraadse onderwyssertifikaat/-diploma gekombineer word)
  • Werknemer in die toerismebedryf
  • Erfenishulpbronbestuurder
  • Omgewingsosioloog
  • Omgewingsevalueringpraktisyn
  • Omgewingskonsultant
  • Besoedelingsanalis
  • Maatskaplike en gedragsdata-analis
  • Navorser/beïnvloeder
  • Statistiese analis
  • Bedryfsosioloog
  • Arbeidsverhoudingepraktisyn
  • Mensehulpbronpraktisyn
  • Gedragsdata-analis