HULPBRONBESTUURSAGENTSKAP VIR SUID-AFRIKAANSE TALE
Suid-Afrika spog nou met sy eie hulpbronbestuursagentskap (genoem die RMA) vir die bestuur en verspreiding van herbruikbare digitale teks- en spraakhulpbronne vir al die amptelike tale. Hierdie hulpbronne is van kardinale belang vir navorsing en ontwikkeling in die domein van taaltegnologie vir toepassing op plaaslike tale.
Voorbeelde van taaltegnologietoepassing is, o.a
- geoutomatiseerde telefooninligtingstelsels,
- GPS-stelsels,
- spel- en grammatikatoetsers, en
-
masjienvertaalstelsels wat in verskeie Suid-Afrikaanse tale funksioneer.
Hierdie toepassings word toenemend in mobiele toestelle gebruik, en dit bied aan Suid-Afrikaners ongekende toegang tot inligting en dienste in plaaslike tale.
Die Departement van Kuns en Kultuur se Nasionale Sentrum vir Mensetaaltegnologie befonds hierdie opwindende inisiatief, wat in lyn is met soortgelyke inisiatiewe elders ter wêreld. CTexT is aangewys om die RMA tot stand te bring, en om herbruikbare teks- en spraakhulpbronne vanaf één sentrale punt te versprei.
Breë kategorieë van data m.b.t. die RMA sluit in teks, spraak, taalverwante video, multimodale hulpbronne (soos gebaretaal), sowel as patologiese en forensiese taaldata. Besoek http://rma.nwu.ac.za/ vir verdere inligting.