Tuisblad

 

 

Die NWU-Skryfsentrum bied dienste aan wat aan die verbetering van studente se akademiese skryfwerk gewy is. Ons volg ’n studentgesentreerde benadering deur studente se vermoëns te benut om hulle outonome akademiese skryfvaardighede te ontwikkel. Ons ervare konsultante is opgelei om die volgende gebiede van belang te hanteer:

Opheldering

Studente het dikwels hulp nodig om te verstaan wat in die werkopdragte van hulle vereis word. Ons konsultante staan dus studente met taakontleding by om hulle te help om die instruksies in opdragte te verstaan.

Beplanning en organisering

Om duidelike en gefokusde argumente te skryf, moet ’n mens eers die skryfproses beplan. Die skryfproses bestaan uit die voor-skryf-, skryf- en ná-skryffase.

In die voor-skryffase beplan ’n mens die skryftaak wat jy moet aanpak. Hierdie fase behels die vind en ontleding van toepaslike bronne om die beredenering toe te lig. Nadat jy die betrokke bronne behoorlik ontleed het, kan die skryffase begin.

Die daaropvolgende skryffase bestaan uit die ontwikkeling van die boublokke van jou beredenering, met ander woorde samehangende paragrawe en toepaslike onderafdelings. Tydens hierdie fase help konsultante die studente met die skryfproses as geheel, verdeel die skryftaak in hanteerbare stukke, orden idees, en bou argumente.

In die ná-skryffase, en voordat dit ingelewer word, moet die skrywer die taak hersien en proeflees.  Deur die teks te hersien en te proeflees, kontroleer die skrywer dat die taal korrek is, dat die argument ’n duidelike lyn volg, en dat al die bronne behoorlik aangehaal is. Hoewel die Skryfsentrum nie ’n proeflees- of redigeringdiens aanbied nie, help die konsultante studente om proefleesvaardighede te ontwikkel, die belangrikste argumente en idees te heroorweeg, en te kontroleer of al die bronne korrek aangehaal is waar dit nodig en toepaslik is.

Bronintegrasie

Akademiese skryfwerk kan as ’n gesprek tussen die skrywer, die bronne, en – die belangrikste – die leser beskou word. Die skrywer se doel moet wees om die teks op so ’n wyse saam te stel dat die argument so duidelik en akkuraat as moontlik oorgedra word. Wanneer dit gedoen word, haal die skrywer eksterne bronne aan om ’n geloofwaardige argument te bou en hulle idees te staaf. Hier gee die konsultante leiding aan studente oor hoe om inteksverwysings behoorlik te gebruik, bronnelyste en bibliografieë te skep, die toepaslike verwysingstyl te gebruik en spesiale aandag aan akademiese integriteit te gee.

Maak gebruik van hierdie gratis dienste – dit is op al drie kampusse (Mahikeng, Potchefstroom, Vanderbijlpark) beskikbaar. Klik hier om ’n afspraak op ons gebruikervriendelike aanlyn besprekingstelsel te maak.