MASARA Navorsingsentiteit

MASARA logo

 

MASARA (Musiekkuns in Suid-Afrika: Hulpbronne en Toepassings) is in November 2008 as ’n navorsingsnisarea gestig. Die fokus vir 2008–2012 was op geselekteerde musiekkuns van Suid-Afrika, met spesifieke verwysing na die Tswana-kultuur en ander plaaslikemusiek-kulture van Noordwes. Ná die Internasionale Music & Well-being-konferensie van 2013 en die daaropvolgende strategiese beplanningsessies, het die nisarea se fokus geleidelik verskuif vanaf die bewaring en gebruik van inheemse musiek na musiek en welstand, wat nie die vorige fokus uitsluit nie. Die perdeblom (dandelion) word sedert die 2013-konferensie as simbool vir MASARA gebruik en versinnebeeld mag, krag, samewerking, buigsaamheid, welstand, groei, diversiteit en individualiteit.

 

Navorsers by MASARA wat in uiteenlopende musiekdissiplines, soos musikologie, etnomusikologie, musiekopvoeding, geestelike musiek, komposisie en uitvoering spesialiseer, werk simbioties saam in die gesamentlike fokusarea van musiek en welstand. Die navorsing wat uit hierdie gesamentlike fokus voorspruit, dra tot die bevordering van verskillende kontekste by, soos musiek-onderrig en -leer, musiek in die alledaagse lewe, musiek in gemeenskappe, musiek in godsdienskontekste, asook musiekuitvoering en komposisie.  Prof June Boyce-Tillman buitengewone professor by MASARA, is ’n spesialis in musiek en welstand, en lewer ook saam met ander navorsingsgenote en postdoktorale genote ’n groot bydrae tot die navorsingsfokus. MASARA behou ook sterk navorsingsamewerking met die Universiteit van Winchester (VK) , die Coventry Universiteit (VK), die Royal College of Music in Stockholm (Swede), die Royal Northern College of Music (VK), en die Guildhall School of Music and Drama (VK). Die internasionaal erkende dirigent en pianis, Kamal Khan, is aan die begin van 2020 as buitengewone professor by MASARA aangestel.

Ons visie:

Ons visie is om MASARA as leidende navorsingsentiteit oor musiek en welstand in Suid-Afrika te vestig.

Ons missie is om:

  • Gesamentlike kennis van diverse musiekervarings uit te brei.
  • Relevante navorsing asook kreatiewe uitsette in musiek en welstand in ’n nasionale en internasionale opset te ontwikkel.
  • ’n Samewerkende navorsingskultuur te bevorder wat maatskaplik relevant is en wetenskaplik erken word.

Die strategie wat ons missie ondersteun, is om navorsing en kreatiewe uitsette innoverend te ontwikkel deur die gehalte te bevorder en die hoeveelheid navorsing ten opsigte van die vereiste kapasiteite en vaardighede te verhoog.

 

MASARA personeel