Publieke Administrasie

Studente sal ervaar dat Publieke Administrasie as vak hulle leer wat die belangrikste teorie, onderrig, vaardighede en praktyke is wat met die eietydse Suid-Afrikaanse staat en die wêreldwye openbaresektorarena verband hou. Studente word blootgestel aan omvattende akademiese literatuur en teorieë wat met openbare administrasie verband hou, en wat hulle toerus met goeie akademiese en wetenskaplike kennis om analitiese en relevante navorsing te doen sodat oplossings vir praktykgebaseerde uitdagings met teoriegedrewe argumente gevind kan word. Met ’n fokus op die funksionering van die openbare sektor sal studente in Publieke Administrasie kennis verwerf oor dienslewering in die openbare sektor, tersaaklike wetgewing, die rol en verantwoordelikhede van bestuurders in die staatsdiens, en die uiteenlopende en dinamiese omgewing waarin staatsamptenare  funksioneer.

’n Hoë prioriteit word geplaas op die voorbereiding van studente om leierskapsrolle in hulle gemeenskappe in te neem en betekenisvolle bydraes te maak in ’n wêreld wat gedurig verander, veral in ’n demokratiese ontwikkelende Suid-Afrika. Gesonde akademiese en sosiale diskoers word aangemoedig, asook die vermoë om ondersoekend en innoverend te wees om die transformasie van organisasies in die openbare sektor te lei om infrastruktuur en dienste binne ’n demokratiese, ontwikkelende, aanspreeklike en responsiewe openbaresektoromgewing te verbeter.

Studente in Publieke Administrasie sal voorberei word om gebruik te maak van alternatiewe benaderings tot komplekse sosio-ekonomiese verskynsels en om waardegedrewe, logiese argumente aan te bied vir beoordelings wat deur teoretiese en wetgewende raamwerke onderskryf word. Studente sal voorts aangemoedig en gelei word om by samelewingskwessies betrokke te raak, en om hulle maatskaplike, burgerlike en ontwikkelingsverantwoordelikhede te oorweeg. Hulle sal gemotiveer word om hulleself aan maatskaplike geregtigheid, demokrasie, menseregte en sosio-ekonomiese ontwikkeling toe te wy, en om dit deur middel van ’n toepaslike formaat in ’n etiese konteks te kommunikeer wat die regte van individue, groepe en gemeenskappe respekteer en handhaaf. 

In die wydste sin is Publieke Administrasie die studie van die manier waarop teorie, navorsinggedrewe ondersoek en die praktyk saam werk om die belangrikste behoeftes van ’n land se burgers te bevredig. Publieke Administrasie bestudeer meer spesifiek die volgende sake op ’n wetenskaplike manier:

  • Teorieë: Akademiese literatuurteorieë en wetgewing rakende openbare administrasie en die toepassing daarvan in die openbare sektor, spesifiek binne die demokratiese ontwikkelingskonteks.
  • Navorsingsmetodes: Kwalitatiewe, kwatitatiewe en gemengde-metode navorsing om effektief in 'n aanvaarbare akademiese formaat te kommunikeer.
  • Rol van Openbare Administrasie: die rol van openbare administrasie in die waarneming en evaluering van samelewings- en wêreldtendense en die generering van lewensvatbare oplossings vir volgehoue ​​ontwikkeling en ingeligte oplossings vir sosio-ekonomiese uitdagings.
  • Lokus en fokus: die lokus en fokus van openbare administrasie in die openbare sektor van 'n land soos Suid-Afrika.
  • Grondwet en funksionering: die manier waarop die staat se wetgewende, uitvoerende en geregtelike instellings saamgestel is en die wyse waarop hulle funksioneer.
  • Regeringsfere: Die aard en omvang van openbare dienslewering in die drie regeringsfere.
  • Prosesse en funksies: Openbare bestuursprosesse en -funksies, byvoorbeeld beleidmaking, beplanning, organisasie, leierskap, menslikehulpbronbestuur en finansiële bestuur. Dinamika in die openbare sektor: die dinamika, strukture en prosesse in organisasies in die openbare sektor.
  • Etiek: die plek en rol van etiek in openbare prosesse.