Ontwikkelingskommunikasie

Wat doen 'n ontwikkelingskommunikasiepraktisyn?

Ontwikkelingskommunikasie verwys na bemagtiging en ontwikkeling, meestal in ’n gemeenskapskonteks.  ’n Kommunikasiepraktisyn wat in ontwikkelingskommunikasie spesialiseer, moet kommunikasiestrategieë kan ontwikkel om met of namens nieregeringsorganisasies (insluitende gemeenskappe), die privaat sektor en die regering te kommunikeer met die doel om samelewings vir maatskaplike verandering te bemagtig en te mobiliseer. Hierdie persoon spesialiseer in strategiese kommunikasie in ’n ontwikkelingskonteks, met inagneming van die uniekheid en uitdagings van hierdie konteks.

Waar kan jy werk?

’n Spesialis in ontwikkelingskommunikasie kan vir korporatiewe organisasies werk, veral om kommunikasie te bestuur in die konteks van inisiatiewe ten opsigte van korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid. Die persoon kan ook vir niewinsgewende organisasies werk wat op bemagtiging en maatskaplike verandering fokus, of kan as kommunikasiepraktisyn in ontwikkelingsinisiatiewe vir die regering werk. Aangesien Suid-Afrika ’n ontwikkelende land is waar ontwikkelingskontekste oorweeg moet word wanneer kommunikasiestrategieë beplan word, is daar ook geleenthede om as kommunikasiekonsultant vir maatskaplike verandering te werk in óf ’n bestaande besigheid, óf deur jou eie te begin.

Waarom Ontwikkelingskommunikasie aan die NWU studeer?

Ons het ’n gevestigde Ontwikkelingskommunikasie-program met dosente wat nie net kundig is nie, maar ook passievol is oor hierdie gebied van kommunikasie. Ons program het ’n unieke fokus omdat ons ontwikkelingskommunikasie vanuit ’n maatskaplike sowel as ’n korporatiewe perspektief bestudeer.
 
Hierdie graad word in Potchefstroom aangebied.

Keuringskriteria

Spesifieke toelatingsvereistes geld vir alle honneursprogramme in Kommunikasie:
 
  • ’n Driejaargraad in Kommunikasie met ’n gemiddelde slaagsyfer van 60% vir die kernmodules in Kommunikasie op derdejaarsvlak. 
  • Alle aansoekers word voor toelating gekeur.
  • Toelating tot die spesialisgebiede van Joernalistiek en Mediastudies, Gevorderde Korporatiewe Kommunikasie, en Ontwikkelingskommunikasie is onderhewig aan keuring volgens die kriteria wat in die studentegids aangegee word.
  • ’n Gemiddelde van ten minste 60% vir die Kommunikasieteorie-module (nuut COMS311 – oud KCOM218), asook die Kommunikasienavorsing-module (nuut COMS322 – oud KCOM311) of ekwivalente modules.
  • Addisionele toelatingsvereistes geld vir elke program.
  • Ontwikkelingskommunikasie-studente moet die volgende modules slaag: COMS212, COMS225 en KCOM318 (P/M). 
Raadpleeg die jaarboek vir meer inligting.