Politieke Studie fokus op sake wat verband hou met mag en gesag in die staat en die regering, maar ook in die breër samelewing. As studente van politiek fokus ons op “die spel wat mense speel” om wetend en onwetend politieke agendas na te jaag. Politiek wentel om die toewysing van hulpbronne in die samelewing en hoe formele (byvoorbeeld ’n beleid) en informele gewoontes sodanige hulpbrontoewysingspraktyke handhaaf of verander.
Internasionale Betrekkinge, aan die ander kant, fokus onder andere op verhoudings tussen volke, tussenregerings- en nieregeringsinstellings, omgewingspolitiek, en sekerheid. ’n Student in Internasionale Betrekkinge sal vaardighede verwerf in diplomasie, konflikbestuur en ’n kritiese ontleding van wêreldsake.
Politieke Studie ondersoek ’n reeks huidige studieterreine of subdissiplines. Dit sluit in:
- Vergelykende politiek
- Politieke teorie
- Politieke filosofie
- Buitelandse beleidsanalise
- Tussenregerings- en nieregeringsbetrekkinge
- Sekerheidstudies
- Teorieë van internasionale betrekkinge
- Internasionale instellings
- Internasionale betrekkinge met sy bepaalde stel subdissiplines
- Politieke ekonomie en streeksfokuspunte soos Afrika- en Suid-Afrikaanse politiek
- Politieke stelsels
Betekenis en toepassing
Dit is ongetwyfeld só dat die onderwerpe wat in Politieke Studie bestudeer word die samelewingskonteks van ’n individu se lewenswyse vorm. Die lewe is uiteindelik niks meer nie as ’n politiekgedrewe werklikheid waarin mense oor hulle eie lewenspad moet onderhandel.
Studente verkry kennis van en insig in politiek – politieke prosesse, instellings en die gevolge vir die samelewing en die omgewing. Studente sal dus ’n beter begrip kry van die eise en uitdagings van hulle manier van leef en hoe om dit te hanteer. Dit is net soveel van toepassing in hulle hoedanigheid as burgers van die land, of in ’n bepaalde beroep, en gaan saam met die nodige besef dat niks konstruktiefs in die betrokke land, of in wêreldpolitiek, bereik kan word sonder om mense ten opsigte van politieke doelwitte en beleide te mobiliseer nie.
In ’n toenemend geglobaliseerde wêreld het internasionale betrekkinge ’n meer relevante interdissiplinêre studiegebied geword. Kwessies soos klimaatsverandering, sekerheid (die mens, voedsel, die staat, ens.), die wêreldekonomie, internasionale reg, buitelandse beleid en multinasionale korporasies is steeds ’n groot bekommernis in ontwikkelde en ontwikkelende state. Die komplekse, interafhanklike aard van die wêreldwye stelsel het akademiese bevraagtekening van die 21ste-eeuse wêreldpolitiek nodig.