Sosiale Antropologie

Sosiale antropoloë probeer verstaan hoe mense hulle lewens betekenisvol maak, hoe hierdie alledaagse lewens ons samelewing vorm, en op hulle beurt deur die wêreldwye vloei van inligting deur die media, mediese diskoers, ekonomiese beleid en historiese transformasie gevorm word. Sosiale Antropologie is daarop gerig om ons te help om ons komplekse en deurmekaar wêreld te verstaan as gevolg van die unieke vermoë daarvan om ’n gedetailleerde verslag van gewone lewens in uiteenlopende kontekste te produseer, en om hierdie besonderhede met die wisselwerking tussen die sosiale lewe, die kulturele lewe en breë politieke en ekonomiese strukture te verbind. Gegradueerdes is goed geposisioneer om hierdie navorsingsvaardighede in die burgerlike samelewing, die staats- en bemarkingskontekste te inkorporeer.

Waarom Sosiale Antropologie bestudeer?

Deur te kies om Sosiale Antropologie te bestudeer, kies jy om by ’n wye kennisveld betrokke te wees. Van stedelike antropologie wat op die maatskaplike en politieke implikasies van stadsbeplanning en stedelike ruimte fokus, tot openbare gesondheid, tot massamedia, tot marknavorsing en produkontwikkeling, streef ons daarna om ons studente betrokke te kry by diensleerprojekte wat hulle direk met inisiatiewe in ’n Suid-Afrikaanse konteks in kontak bring. Die voorgraadse kurrikulum by die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit is op so ’n wyse gestruktureer dat dit studente by die relevante aspekte van die maatskaplike lewe betrek, aan hulle navorsingservaring gee en hulle voorberei om die soort vrae te vra en tipes insigte te genereer wat antropoloë gesogte sosiale wetenskaplikes maak.