Zanre Reed

Europese-filmbeurs vir oud-Puk

Deur Lieneke Pieterse


Zanré Reed                                                                                                                                                        Foto: Deby Aho

David Zanré Reed, ʼn oud-student van die Skool vir Kommunikasie op die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus, het vanjaar ʼn Erasmus Mundus-studiebeurs losgeslaan om sy meestersgraad in dokumentêre video-redigering in Europa te voltooi.

Hierdie beurs word jaarliks deur die Europese Unie uitgereik aan studente en akademici en bestaan uit meer as 166 programme wat in Europa gevolg kan word.

Zanré is een van ʼn klein groep studente wat gekies is om een van hierdie programme, “DOC NOMADS”, te voltooi. Hierdie graad behels ʼn internasionale program van twee jaar wat gesamentlik deur vooraanstaande Europese Universiteite in Portugal, Hongarye en België aangebied word.

Zanré was op soek na geleenthede vir verdere studie en het toevallig op die program af gekom. Hy sê hy het dadelik geweet dit is die perfekte geleentheid vir hom. “Ek het aanklank gevind by die skool se eklekties- en praktiese benadering wat glo dat dokumentêre filmregie aangeleer word deur films in die regte wêreld te skiet.”

Hy het sy honneursgraad in organisasiemediabestuur in 2014 op die Potchefstroom-kampus voltooi en het tydens sy studies begin films maak. Hy het in 2013 saam met ʼn mede-student, Jonathan Van Heerden, en ʼn oud-student, Danie van der Westhuizen, die moed bymekaar geskraap om hul film, Gloves, vir die ATKV-Filmfundi-kompetisie in te skryf en het die eerste plek verower. Dit was volgens hom net die begin van sy reis in die rolprentbedryf.

Die aansoekproses vir die Europese beurs was volgens Zanré baie uitdagend en het reeds in November 2015 begin. “Ek het nie verwag dat ek aanvaar gaan word nie. Dit was absoluut ʼn waagstuk.”

Deel van die proses het behels dat hy ʼn dokumentêre film van drie minute met die titel “My world” maak. Hierdie dokumentêr het ʼn kort ontdekkingstog deur sy wêreld in Potchefstroom in sy moedertaal, Afrikaans, behels. Verder moes hy onder meer ʼn Skype-onderhoud met ʼn paneel van agt filmkenners aflê en ook sy NWU-graad internasionaal laat sertifiseer.

Hy is nou besig met sy visum-aansoek om in Augustus sy studies in die Portugese hoofstad Lissabon af te skop.

“Ek sien daarna uit om in omstandighede geplaas te word wat na aan die werklike situasie van die industrie is sodat ek my instink as filmmaker, my estetiese probleem-oplossing, bestuursvaardighede en narratiewe ritme, tegniese kennis en persoonlike ontdekkingstog kan gebruik.”

Hy meen dit gaan ʼn uitdaging wees om Suid-Afrika elke semester in ʼn ander land te verteenwoordig. Studente wat hierdie graad voltooi, reis vanaf Lissabon na Brussel in België  via die Hongaarse hoofstad Budapest. Tydens hierdie reis word hulle volgens DOC NOMADS se webtuiste doelbewus binne verskillende kulturele omgewings geplaas waar hulle leer om hul vermoëns buite hul normale konteks te beproef.

Zanré beplan om terug te keer na Suid-Afrika nadat hy sy studies voltooi het omdat hy meen hy kan tot die dokumentêre film-kultuur van die  land bydra. “In Suid-Afrika is daar genoeg stories en stemme wat bemagtig en gevier moet word.”