Ontwikkelingstudies

Ontwikkelingstudies is ’n multidissiplinêre gebied wat maatskaplike, ekonomiese en politieke verandering ondersoek. Hierdie gebied ondersoek debatte, ervarings en praktiese maniere om ’n verbetering in die menslike toestand te bereik. Die vakgebied bestudeer die veranderende debatte oor die teorie en praktyk wat uit die geskiedenis van werk in ontwikkelende lande en samelewings gegroei het. Gegradueerdes is goed geposisioneer om in die staatskonteks en die kontekste van die burgerlike samelewing te werk wat op ontwikkeling van gemeenskappe tot op nasionale vlak fokus.

Waarom Ontwikkelingstudies bestudeer?

Kennis wat met Ontwikkelingstudies opgedoen word, kan gebruik word om deur middel van toepaslike strategieë en tegnieke die implementering van ontwikkelingsprogramme en projekte te fasiliteer. Studente leer om die ervarings van ander lande te benut, veral dié van ontwikkelende lande, en pas ontwikkelingsbeleide in landelike en stedelike ontwikkeling toe. Hulle ontwikkel die vermoë om goeie bestuur te bevorder deur volhoubare heenkomes onder minderbevoorregte groepe in die landelike gebiede van Noordwes, Suid-Afrika en die groter Afrika-kontinent te fasiliteer. Studente leer ook om ’n bewustheid te skep onder landelike en stedelike gemeenskappe oor die rol van grondhervorming om gelykheid, maatskaplike geregtigheid en ’n volhoubare heenkome te bevorder, en om kennis onder landelike en stedelike gemeenskappe, regerings- en nieregeringsorganisasies, asook ander belanghebbers, van die rol van inheemse kennisstelsels (IKS) te bevorder sodat ontwikkelingskwessies hanteer kan word.