Joernalistiek en Mediastudies

Wat doen 'n joernalis?

Joernaliste vertel vir mense wat in die wêreld om hulle aangaan, oor dinge wat saak maak. Hulle ondersoek aangeleenthede en ontwikkel idees vir stories, samel inligting in deur metodes en tegnieke soos onderhoude, navorsing, en waarneming, en skep stories – vir gedrukte of digitale publikasies of vir uitsending op televisie, die radio of oor potgooie. Die mediawêreld het in die laaste jare dramaties verander en verander steeds.   Joernaliste moet deesdae baie weet – hulle moet dink hoe hulle ’n storie op talle verskillende platforms kan vertel. Dit beteken hulle moet vertroud wees met immerveranderende tegnologie. Hulle moet kan foto’s neem, video’s vir aanlyn verslaggewing skiet, en sosiale media kan gebruik om hulle stories te versprei. Radio- en televisiejoernaliste moet dikwels benewens hulle verslaggewingstake nuus kan lees en aanbied, terwyl joernaliste ook moet weet hoe om stories te redigeer en bladsye vir aanlyn en gedrukte gebruik te ontwerp.  Daar is ook ’n toenemende behoefte aan gemeenskapsnuus. Korporatiewe joernaliste werk vir organisasies waar hulle interne nuuspublikasies produseer en dieselfde vaardighede gebruik wat joernaliste in die gewone nuusomgewing gebruik.

Waar kan jy werk?

Joernaliste kan in die gedrukte media, die uitsaaiwese (radio en televisie) en die digitale media (aanlyn en sosiale media) werk. Hulle kan kies om vir ’n nuusorganisasie as ’n personeelskrywer of -verslaggewer, of onafhanklik as ’n vryskutjoernalis of selfs nuusbeïnvloeder te werk. Joernaliste kan ook hulle vaardighede op ander kommunikasiegebiede gebruik. Moontlike werk sluit in:
 
  • Redakteur
  • Gemeenskapsmediajoernalis 
  • Joernalis by hoofstroommedia
  • Vryskutjoernalis
  • Inhoudverskaffer (aanlynmedia)
  • Subredakteur 
  • Teksredigeerder (byvoorbeeld vir ’n uitgewer) 
  • Uitleg- en ontwerpredigeerder (met gebruik van publikasie- of webontwerpvaardighede)
  • Mediaskakelings-/mediaverhoudingepraktisyn
  • Woordvoerder 
  • Beïnvloeder

Waarom Joernalistiek aan die NWU studeer?

Joernalistiekstudente word gehelp om die wêreld van multiplatformjoernalistiek te ontdek en te bemeester. Hulle word opgelei om slimfone en ander tegnologie te gebruik om inhoud te skep vir gehore wat verkies om nuus in gedrukte, uitsaai-, aanlyn of digitale formaat te ontvang. Die NWU fokus ook op radio – ’n gebied van die joernalistiek wat mense in elke uithoek van Suid-Afrika en die wêreld bereik. Die fokus op praktiese vaardighede word aangevul deur kritiese nadenke wat op teorie gegrond is oor die media se rol in ’n demokratiese samelewing.. Die werk van ’n joernalis word in ’n etiese en regskonteks geplaas – veral relevant in ’n era van fopnuus. Ons joernalistiekdosente het akademiese kennis en uitgebreide professionele ervaring op hierdie gebied, in Suid-Afrika sowel as in die buiteland.

Die NWU is een van slegs ’n paar universiteite in Suid-Afrika wat as deel van die kurrikulum aan joernalistiekstudente die geleentheid gee om nuus vir ’n lewendige nuusplatform te lewer terwyl hulle studeer, en aan hulle die geleentheid gee om digitale joernalistiek in ’n werklike omgewing te leer. Jy kan die webwerf by threestreamsmedia.com besoek.

Hierdie graad word op Potchefstroom (PK) en Mahikeng (MK) aangebied.
 

Keuring

Spesifieke toelatingsvereistes geld vir alle honneursprogramme in Kommunikasie:
 
  • 'n Driejaargraad in Kommunikasie met ’n gemiddelde slaagsyfer van 60% vir die kernmodules in Kommunikasie op derdejaarsvlak. 
  • Alle aansoekers word voor toelating gekeur.
  • Toelating tot die spesialisgebiede van Joernalistiek en Mediastudies, Gevorderde Korporatiewe Kommunikasie, en Ontwikkelingskommunikasie is onderhewig aan keuring volgens die kriteria wat in die studentegids aangegee word.
  • ’n Gemiddelde van ten minste 60% vir die Kommunikasieteorie-module (nuut COMS311 – oud KCOM218), asook die Kommunikasienavorsing-module (nuut COMS322 – oud KCOM311) of ekwivalente modules.
  • Addisionele toelatingsvereistes geld vir elke program.
  • Joernalistiek- en Mediastudiestudente moet die volgende modules slaag: COMS326 (PK) of COMS324 (VK) of COMS314 (MK) en COMS323 (MK).