Magister in die kunste in grafiese ontwerp

Wat Is Kunsgeskiedenis En Visuele Studie?

Kunsgeskiedenis en Visuele Studie lewer ’n belangrike bydrae tot die ontwikkeling van insig in die visuele kunste, wat uit verskillende historiese en geografiese kontekste kom en dit weerspieël. Dit gee aan studente ’n dieper begrip van die komplekse, veranderende verhoudings tussen kulturele uitdrukking en sosiopolitieke dinamiek. Die doel van Kunsgeskiedenis en Visuele Studie is om vermoëns soos kritiese denke, navorsingsvaardighede, ’n openheid vir alternatiewe standpunte, en goed berekende oordeelsvermoë oor die wêreld van visuele kuns en kultuur te ontwikkel. Studente vind baat by die studie van visuele beelde en kultuurerfenis regoor ’n breë spektrum omdat dit hulle stimuleer en die kreatiewe verbeelding verryk. Kunsgeskiedenis en Visuele Studie is voorts daarop gemik om visuele en akademiese geletterdheid te ontwikkel. Hierdie vaardighede sal studente in staat stel om visuele beelde op ’n kritiese en selfreflektiewe wyse te lees en te ontleed, om dit in die breër sosiopolitieke konteks te verstaan, en om hierdie insigte op ’n akademies-gegronde wyse uit te druk.

Die kwalifikasie in Kunsgeskiedenis en Visuele Studie sluit nie tans ’n voorgraadse graadprogram in nie, maar die vak kan as deel van die BA Geesteswetenskappe-aanbieding as hoofvak, keusevak of ekstra module geneem word. Studente wat in die volgende gebiede studeer sal daarby baat om Kunsgeskiedenis en Visuele Studie as hoof- of keusemodule te neem: tale, geskiedenis, filosofie, antropologie, sosiologie, kreatiewe skryfwerk, politieke studie, kommunikasie en verwante gebiede.   Hierdie module word in Potchefstroom aangebied. Daar is geen voorvereistes vir die neem van Kunsgeskiedenis en Visuele Studie as eerstejaarsvak nie, en geen voorafkennis van kuns of visuele kultuur is nodig nie.

Loopbaanmoontlikhede

As kunshistorikus of vakkundige in visuele studie kan jy by ’n universiteit, ’n galery, ’n kunstenaar se ateljee of ’n soortgelyke produksieplek werk; ook as ’n kurator en/of konsultant vir ’n maatskappy se kunsversameling, of in verskeie ander posisies en plekke. Kunshistorici en kundiges in visuele studie reis dikwels baie – daar is al gesê dat die beste verskoning om die huis te verlaat, is om die wêreld se kuns en materiële kultuur te sien. Met opleiding as kunshistorikus is jy buigsaam, aanpasbaar en in staat om in talle verskillende kontekste te werk. Voorbeelde van loopbane wat spruit uit die studie van kunsgeskiedenis en visuele studie sluit in dat jy ’n kunskritikus, kunsjoernalis, galery-eienaar, kurator, kunskonsultant, kunshandelaar, bestuurder van kunstenaars se loopbane, onderwyser, toerismespesialis, navorser, kunsblogger, kunstefeesbeampte, uitgewer, skepper van webinhoud, kunsversamelaar, ateljeebestuurder en galerybestuurder kan word.

Nagraadse Programme Vir Kunsgeskiedenis En Visuele Studie

Voorgraadse kursusse in Kunsgeskiedenis en Visuele Studie is deel van die basiese studie wat vir nagraadse grade op hierdie gebied nodig is. Ons nagraadse navorsingsprogramme is deel van die navorsingsnis Visuele Narratiewe en Skeppende Uitsette deur Interdissiplinêre en Praktykgerigte Navorsing (Visual Narratives and Creative Outputs through Interdisciplinary and Practice-Led Research (ViNCO ). Die navorsingsnis ViNCO dra by tot die huidige diskoers oor Suid-Afrikaanse en Afrika- visuele narratiewe en die geskiedenis en visies wat dit vorm.

  • Honneursgraad in Kunsgeskiedenis en Visuele Studie (slegs PK)

Nadat studente ’n baccalaureusgraad voltooi het en drie jaar se Kunsgeskiedenis en Visuele Studie-modules geneem het, kan hulle aansoek doen vir toelating tot ’n honneursgraad wat by Potchefstroom aangebied word. Om vir die honneursgraadprogram oorweeg te word, moes ’n student sekere voorgraadse modules in Kunsgeskiedenis en Visuele Studie voltooi het en ’n gemiddelde van meer as 60% vir hulle derdejaarsmodules behaal het.

Die honneursgraad in Kunsgeskiedenis en Visuele Studie bestaan uit verskillende vakke. Studente moet twee verpligte modules voltooi: Kuns en die Samelewing (KSGS684, Navorsingsverslag-module), Filosofie, Teorie en Metodologie van Kuns (KSGS685), en drie van die volgende keusemodules: Filmstudies (KSGS676), Temas in Eietydse Visuele Kultuur (KSGS682); Kuns en Visuele Kultuur: Teorie en Praktyk (KSGS683), en Visuele en Populêre Kultuur-teorie (KSGS686). Studente kan ook een van hierdie modules vir ’n capita selecta-module van sekere honneursgraadprogramme in die geesteswetenskappe uitruil. So ’n module moet ’n honneursgraadmodule wees van ’n vak wat die student as ’n hoofvak op derdejaarsvlak geslaag het, en toestemming moet deur die vakleier van die bepaalde honneursgraadmodule gegee word, asook deur die programleier van die honneursgraad in Kunsgeskiedenis en Visuele Studie.

  • Meestersgraad in Kunsgeskiedenis en Visuele Studie (deur afstandsonderrig aangebied)

Die Magister Artium in Kunsgeskiedenis en Visuele Studie is ’n twee- tot driejaar- deeltydse of voltydse program wat uitloop op die indiening, assessering en aanvaarding van ’n verhandeling. Studente ontvang die geleentheid om onder leiding van ’n studieleier onafhanklike navorsing oor ’n bepaalde vakgebied te doen. Die tema van die verhandeling word op individuele belangstelling op die gebied van Kunsgeskiedenis en Visuele Studie en op die kundigheid van die studieleier gebaseer. Daarbenewens word die onderwerp van die verhandeling gegrond op ’n lewendige belangstelling om iets tot die visie en navorsingsdoelwitte van die navorsingsnis van ViNCO by te dra.

Om toelating tot hierdie meestersgraad te kry, geld die volgende toelatingsvereistes, benewens die vereistes wat in Algemene Reël A.5.2 van die Universiteit uiteengesit word: ’n student moes ’n honneursgraad in die toepaslike studiegebied met ’n minimum gemiddelde van 65% verwerf het. Alternatiewelik moet aansoekers die status van so ’n kwalifikasie hê wat op versoek deur die Senaat toegestaan word deur ’n vlak van bevoegdheid te verwerf wat, na die mening van die Senaat, en op aanbeveling van die fakulteit, voldoende is vir die doeleindes van toelating as kandidaat vir die graad. ’n Aansoeker vir registrasie moet bewys lewer van hulle prestasies en onderrig en sodanige voorbereidingswerk voltooi soos wat die Senaat mag vereis, en moet die Senaat met betrekking tot die geskiktheid die vak van hulle keuse tevrede stel. ’n Evalueringsertifikaat soos deur die Suid-Afrikaanse Kwalifikasie-Owerheid (SAKO) uitgereik word, moet ingedien word indien ’n vorige kwalifikasie in die buiteland verwerf is.

  • Philosophiae Doctor in Visuele en Uitvoerende Kunste met Kunsgeskiedenis en Visuele Studie (deur afstandsonderrig aangebied)

Die PhD in Visuele en Uitvoerende Kunste met Kunsgeskiedenis en Visuele Studie streef daarna om opleiding vir ’n akademiese loopbaan op die gebied van visuele en uitvoerende kunste te verskaf. Dit vereis van ’n kandidaat om navorsing op die heel gevorderdste akademiese vlakke uit te voer wat uitloop op die indiening, assessering en aanvaarding van ’n proefskrif. ’n Kandidaat mag ook eweknie-beoordeelde akademiese artikels en referate ter gedeeltelike nakoming van die navorsingsvereistes voorlê.  Kandidate sal deur die Philosophiae Doctor in Visuele en Uitvoerende Kunste met Kunsgeskiedenis en Visuele Studie die geleentheid ontvang om onafhanklike navorsing en gevorderde studie te onderneem wat deur die visie en doelwitte van die navorsingsnis ViNCO onderskryf word. Die proefskrif moet deur oorspronklike navorsing en onder leiding van ’n studieleier in ’n bepaalde vakgebied ’n beduidende bydrae tot die nasionale en internasionale bevordering van kennis en begrip op die gebied van die visuele en uitvoerende kunste lewer.

Benewens die vereistes wat in Algemene Reël A.5.2 van die Universiteit uiteengesit word, geld die volgende toelatingsvereistes: ’n kandidaat moes ’n meestersgraad in Kunsgeskiedenis en Visuele Studie of ’n gelykwaardige kwalifikasie met ’n gemiddelde punt van 65% verwerf het. Aanvaarding van kandidate vir die PhD is onderhewig aan (i) die beskikbaarheid van kundigheid op die gebied, en (ii) die kapasiteit van personeel om die studie te lei. Die nagraadse komitee kan, indien nodig, versoek dat die kandidaat ’n akademiese opstel skryf om toelating te verseker.

Toelatingsvereistes

Kontak asseblief die Kunsgeskiedenis en Visuele Studie-span vir enige navrae wat met die voorgraadse en honneursgraadprogramme verband hou. Vir nagraadse sake, stuur asseblief ’n e-pos aan vinco@nwu.ac.za of besoek die navorsingsnis ViNCO.