Voorgraadse modules

Voorgraadse kommunikasiemodules

Eerstejaarsvakke

KCOM 111 Inleiding tot kommunikasiekontekste

Hierdie module lê die grondslag vir die bestudering van massakommunikasie. Dit is ʼn belangrike komponent van die BA-graad met kommunikasievakke sowel as ander kommunikasiegrade. Wanneer jy hierdie module deurgewerk het, behoort jy ʼn goeie idee te hê van hoe die wêreld van massamediapraktisyns werk, hoe massakommunikasie ontwikkel het, wat die aard en omvang daarvan is, watter belangrike teorieë ons help om die verskynsel te verstaan, en hoe die Suid-Afrikaanse massamediabedryf die afgelope 20 jaar verander het. In modules wat hierop volg kom subdissiplines soos joernalistiek, organisasiemediabestuur, dokumentêre video, kommunikasie vir sosiale verandering en korporatiewe kommunikasiebestuur aan die beurt.

 

KCOM112 Inleiding tot kommunikasiekontekste

ʼn Mens bevind jou dikwels in die geselskap van ander mense, met wie jy dan ook kommunikeer. Hierdie module fokus op die alledaagse kommunikasiegebeurtenisse tussen jou en jou vriende, geliefdes en/of kollegas. Dit is dus van toepassing op jou menswees en jou spraakpersoonlikheid. Iemand wat nie die beginsels en teoretiese grondslag van kommunikasie ken nie, sal byna nie in staat wees om doeltreffend te kommunikeer en te funksioneer nie – of dit nou op ʼn persoonlike of professionele vlak in ʼn organisasie is. Hierdie module is die basis van alle vorms van kommunikasie, soos interkulturele, oorredings- en interne kommunikasie. Jy moet dus die inhoud van hierdie module behoorlik baasraak – en dit in jou daaglikse kommunikasie kan toepas.

 

KCOM121 Inleiding tot die joernalistiek

Hierdie module maak jou gereed om as ʼn joernalis in ʼn konvergente mediawêreld te werk. Dit beteken dat jy blootgestel word aan joernalistiek en sy gepaardgaande vaardighede in die druk- en uitsaaiwese en in die digitale wêreld, wat sosiale media insluit. Jy sal ook begin leer oor korporatiewe joernalistiek – joernalistiek binne organisasies. Wanneer jy die module voltooi het, behoort jy te weet binne watter konteks joernalistiek plaasvind en wat die funksies daarvan is. Jy sal verstaan hoe verslaggewers en redakteurs by die verskillende media werk en hoe hierdie media funksioneer. Jy sal ook basiese joernalistieke skryf- en redigeervaardighede hê. Daarbenewens is die module noodsaaklike agtergrond vir studente wat as media- en bemarkingskommunikasiepraktisyns, en publisiteitsbeamptes wil werk.

 

KCOM122 Inleiding tot korporatiewe kommunikasie

Oorredingskommunikasie is deel van die grondslag van kommunikasie as dissipline. Oorreding vind plaas wanneer iemand ʼn ander se houding en gedrag op ʼn etiese manier beïnvloed. Verskillende vorms van oorreding vind plaas in skakelwerk, bemarkingskommunikasie, joernalistiek en in die ontwikkelingsektor. Dis is dus belangrik dat jy die beginsels hiervan begryp en weet hoe dit in die korporatiewe kommunikasieveld toegepas word. Oorreding is veral belangrik as deel van bemarkingskommunikasie. Dit speel egter ook ʼn groot rol in skakelwerk.

In hierdie kursus sal jy leer onderskei tussen bemarking en skakelwerk, en hoe om oorreding eties toe te pas binne hierdie kontekste.

Skakelwerk het verskeie spesialisgebiede en oorredingskommunikasie word op spesifieke maniere in elkeen toegepas. In hierdie kursus leer jy hoe.

 

Tweedejaarsvakke

KCOM211 Publisering (DTP)

Alle vorms van publisering speel ʼn belangrike rol in die professionele lewe van ʼn kommunikasiepraktisyn. Inligting word daagliks deur verskeie kanale gekommunikeer. Kommunikasie moet egter op die een of ander wyse omgeskep word – meestal in ʼn gedrukte of elektroniese/digitale boodskap. Om inligting doeltreffend te kommunikeer, verg van ʼn kommunikasiepraktisyn kennis en vaardighede in alle aspekte van publisering. Hierdie funksie is tot ʼn groot mate die finale vorm van die kommunikasieboodskap – die laaste skakel in die kommunikasieketting. ʼn Projek begin by die beplanning en stap aan na die insamel en saamstel van die inhoud. Die publiseringsfase fokus daarenteen op die hart van die boodskap om seker te maak dat ʼn spesifieke teikenpubliek dit verstaan.

KCOM213 Kommunikasiebestuur: verhoudingsbestuur

In hierdie module maak jy kennis met kommunikasiebestuur, ʼn besonder belangrike aspek in jou voorbereiding vir die beroepswêreld. Jy word bekendgestel aan die belangrikste teorieë van kommunikasiebestuur met die klem op verhoudingsbestuur. Jy sal ook begrip kry vir hoe probleme in kommunikasiebestuur opgelos word en wat die rol en funksie van kommunikasiebestuur as ʼn strategiese bestuurmeganisme is. Daar word ook gefokus op verskillende benaderings tot verhoudingsbestuur in ʼn Suid-Afrikaanse organisasiekonteks, die rol van kommunikasiebestuur in verandering, leierskap, kwessiebestuur, onderhandeling en kennisbestuur binne ʼn organisasie, en die etiese sy van verhoudingsbestuur.

KCOM218 Kommunikasieteorie

Breër, dieper kennis van die kommunikasiewetenskap sal jou help om werklik ʼn kennis op die gebied van kommunikasie te word. Die kommunikasiewetenskap is ʼn breë veld en kenners word gereeld geraadpleeg oor planne, strategieë en ander kommunikasieuitsette. Wanneer jy die teoretiese grondslag van kommunikasie beter verstaan, sal jy kommunikasie as ʼn veld en verskynsel oor beter begryp. Hierdie module is veral nuttig vir studente wat verder wil studeer of navorsing in kommunikasie wil doen. Die teorie wat in hierdie module behandel word, word dikwels gebruik deur navorsers in die veld van mense se begrip oor kommunikasie verder wil ontwikkel.

KCOM222 Interkulturele kommunikasie

Hierdie kursus stel jou bekend aan die aard, omvang en uitdagings van interkulturele kommunikasie. Niemand kan in isolasie funksioneel nie – almal kry die een of ander tyd met iemand van ander kulture of subkulture te doen. Suid-Afrika is immers ʼn land waar ʼn mense van ʼn wye verskeidenheid van kulture saam leef. Doeltreffende kommunikasie oor kulturele grense heen is dus noodsaaklik vir ʼn harmonieuse bestaan. Ons is boonop al hoe nouer verbind aan die internasionale gemeenskap en kan nie die uitdagings en kwessies ignoreer waarmee kommunikeerders in die internasionale konteks te doen het nie. Praktiese voorbeelde word gebruik om die Suid-Afrikaanse perspektief/konteks te verspieël en van studente word verwag om die relevante teorie in eie konteks te kan toepas.

KCOM229 Kommunikasiebeleid, -etiek en -reg

Hierdie module bied ʼn algemene inleiding tot mediabeleid, -etiek en -reg omdat dit nie net belangrik is om te weet hoe om te kommunikeer nie, maar ook wat toelaatbaar en verkieslik is. Die kursus is veral van toepassing in die joernalistiek, skakelwese en bemarking. Dit sal studente lei om die Suid-Afrikaanse grondwetlike konteks met sy klem op vryheid van spraak te verstaan. Studente leer ook om etiese kwessie te identifiseer en te hanteer deur byvoorbeeld verskillende etiese kodes te gebruik. Die volgende onderwerpe is ingesluit: beperkings op die media deur statutêre bepalings (toe en nou), gemenereg, kopiereg en die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika, verbruikersregte en hoe die mediapraktisyn dit kan bevorder, hoe etiek en reg vervleg is, en die rol van die MDDA (Media Development and Diversity Agency) en ander nieregeringsorganisasies in die ontwikkeling en transformering van die Suid-Afrikaanse mediabedryf.

COMS221 Reputasiebestuur

Enige organisasie het ʼn eie aard waardeur hulle geïdentifiseer kan word. Ondernemings streef dus daarna om deur hul belangegroepe gesien te word as eerbaar, betroubaar en volhoubaar. Hierdie kenmerke word deur die interne omgewing van ʼn organisasie gevorm. Dit duur jare voordat ʼn organisasie ʼn betroubare reputasie opgebou het, maar so ʼn reputasie kan binne sekondes vernietig word. Hierdie module fokus op kommunikasie, strategie en reputasie.

 

Derdejaarsvakke

KCOM311 Navorsingsmetodes

Hierdie module berei jou daarop voor om spesifieke teoretiese uitgangspunte en praktiese vaardighede in jou werk as kommunikasiekundige toe te pas. So kan jy inligting op ʼn wetenskaplike manier insamel, klassifiseer, evalueer en daaroor verslag doen. As jy die module voltooi het, behoort jy heelwat meer te weet oor die wetenskaplike studie van kommunikasie, begrip te hê vir die verband tussen teorie en navorsing, en die kennis te kan toepas wanneer jy ʼn navorsingsprojek beplan. Jy sal ook weet wat die waarde is van die kwantitatiewe en kwalitatiewe benaderings tot navorsing en hoe dit toegepas word. Verder sal jy verskeie navorsingsmetodes kan gebruik.

KCOM316 Organisasiemediabestuur: Webbladontwerp

Organisasiemedia, met spesifieke verwysings na die internet, verteenwoordig ʼn dinamiese en opwindende studieveld binne die kommunikasiewetenskap. Die aanlynomgewing het verskeie uitdagings in hierdie verband, soos die vraag of bestaande kommunikasieteorieë genoeg is om die internet as kommunikasieverskynsel te ondersoek, en of nuwe teorieë eerder ontwikkel moet word. Interaktiwiteit het boonop die definisies van konsepte soos “sender” en “ontvanger” kom deurmekaarkrap. Die ontwikkeling van die internet het natuurlik ook ander implikasies vir die samelewing. Die manier waarop mense met mekaar kommunikeer, beïnvloed sosiale verhoudings en die samestelling en funksionering van gemeenskappe. Politieke standpunte en beleid het ook ʼn invloed op die manier waarop die internet in spesifieke samelewings funksioneer. Daarom word globalisering as positief en negatief beskou. Dis dus belangrik dat die internet krities vanuit verskillende perspektiewe ondersoek word. Die impak, toepassing en gebruik van die internet in ontwikkelende lande (soos dié in Afrika) is heeltemal anders as in ontwikkelde lande (soos die VSA). Dit verg ook kritiese nadenke oor kwessies soos ontwikkeling en die voor- en nadele van ʼn kommunikasiemedium vir ʼn gemeenskap wat dikwels nie elektrisiteit, lopende water, betroubare paaie of genoeg geld het nie. Studente moet dus weet hoe om die internet te gebruik om ʼn organisasie se doelstellings te bereik.

In hierdie kursus bekyk ons die teoretiese aspekte van die internet as ʼn korporatiewe medium. Praktiese webbladontwerp word hiermee geïntegreer. Nadat studente hierdie kursus voltooi het, behoort hulle nie net teoreties te kan redeneer oor die gebruik van die internet as korporatiewe medium nie, maar ook basiese korporatiewe webwerwe te kan skep.

KCOM317 Tegnologie en visuele estetika

Videografie verwys na spesifieke tegniese en estetiese dimensies in die studie van visuele beelde en klank. Hierdie module bied ʼn stewige basis vir die joernalistiek. Dit bied ʼn praktykgerigte blik op die media waarmee ons elke dag te doen kry.

Studente leer die teoretiese perspektiewe op videografie, en ook hoe om die kennis in die praktyk te gebruik. Die kursus is gegrond op twee pilare: die basiese gebruik van video, en kreatiewe toepassing van tegnologie. Die kern van die kursus is beelde en klank van gehalte soos bepaal deur die tegniese faktore en hoe dit kreatief aangewend word.

KCOM318 Kommunikasie vir sosiale verandering

In ʼn ontwikkelende demokrasie soos Suid-Afrika word ʼn mens byna daagliks gekonfronteer deur konsepte soos transformasie, ontwikkeling, minderbevoorregte en benadeelde groepe, demokratisering, propaganda, politieke deelname, volhoubare demokrasie, sosiale verandering. Hierdie is net ʼn paar van die konsepte wat binne die breër dissiplines van ontwikkeling en politiek val. ʼn Mens sou kon vra wat die verhouding is tussen hierdie dissiplines en kommunikasie. In die breë word kommunikasie vir sosiale ontwikkeling gesien as enige kommunikasie gemik daarop om mense se lewensgehalte (veral die sosio-ekonomiese lewenspeil) te verhoog. Politieke kommunikasie, daarenteen, is kommunikasie tussen regerende organisasies, partye en strukture binne ʼn samelewing aan die een kant, en lede van daardie samelewing aan die ander. Sonder kommunikasie is politiek nie moontlik nie. Ontwikkeling vind plaas binne ʼn spesifieke politieke konteks en die begrippe kommunikasie, ontwikkeling en politiek is in die Suid-Afrikaanse konteks baie nou verweef.

Albei dissiplines bestaan dus uit talle kommunikasiekonsepte, asook strukture en prosesse waarin kommunikasie ʼn rol speel. In hierdie kursus fokus ons daarop jou jou as ʼn kommunikasiebeampte/-kundige toe te rus om te werk binne ʼn ontwikkelende omgewing.

KCOM326 Geïntegreerde organisasiemedia

Die vertrekpunt van hierdie module is dat korporatiewe media aan organisasies bruikbare instrumente bied om boodskappe aan teikengehore te stuur. Die sukses van geïntegreerde media word dus nie net gemeet aan hoe suksesvol ʼn boodskap oorgedra is nie, maar ook aan hoe die korporatiewe media doeltreffende kommunikasie tussen ʼn organisasie en sy belangegroepe kan fasiliteer. Hierdie media is deel van mense se alledaagse lewens. Dit is waarom dit belangrik is dat korporatiewe organisasies wat boodskappe in die mediasfeer instuur, besef dat hul boodskappe tussen ander mediavorms beland en dat hul kommunikasie met ander mediaprodukte kompeteer om die aandag van ʼn gehoor. ʼn Kommunikasiepraktisyn moet dus verstaan hoe kreatiewe en doeltreffende konsepte in die korporatiewe media geskep word, en vaardighede hierin kan toon.

KCOM327 Videoproduksie

Hierdie module fokus op hoe ʼn mens die produksie van ʼn korporatiewe video beplan. Dit is prakties en werk met voorbeelde uit die bedryf. Studente leer hoe om funksionele navorsing te doen, vereistes vir produkvoorstelle te interpreteer en ook hoe om voorstelle vir ʼn moontlike kliënt saam te stel. Studente leer verder om die produksie saam te stel en om draaiboeke te skryf vir korporatiewe en dokumentêre video’s.

KCOM328 Kommunikasiebestuur: bemarkingskommunikasiebestuur

Ons bevind ons in ʼn kommunikasie-era waarin kommunikasie oor produkte en dienste baie gesprekke oorheers. Bemarkers moet saam met kommunikasiepraktisyns kan werk om die doelstellings van bemarkingskommunikasie te bereik. In sommige gevalle word van een mens verwag om bemarking én kommunikasie binne ʼn organisasie te behartig. Om die samewerking en meervoudige vaardighede te fasiliteer, word bemarkers ook in kommunikasie opgelei. In hierdie module word aandag gegee aan teorieë, prosesse en planne asook die bestuur daarvan binne die bemarkingskommunikasiekonteks (van die organisasie). Elke studie-eenheid fokus op werklike probleme en hul oplossings. Die module-inhoud is ook aan ʼn projek gekoppel sodat teorie en praktyk geïntegreer kan word.

KCOM329 Kommunikasiebestuur: plan

In hierdie module kom kommunikasiebestuur aan die beurt, meer spesifiek die funksie wat die saamstel van ʼn kommunikasieplan behartig. Die kommunikasiepraktisyn se waarde vir die organisasie word gemeet aan hoe suksesvol sy/haar kommunikasieplanne geïmplementeer word. Jy sal leer hoe om ʼn stewige kommunikasieplan saam te stel in pas met die organisasie se strategie en doelstellings.

KCOM371 Media en korporatiewe skryfwerk

Hierdie module word in twee dele verdeel: Die eerste fokus op korporatiewe joernalistiek en die rol van interne kommunikasie (die werknemers) in ʼn organisasie. Jy sal toegerus word om ʼn interne kommunikasiestrategie op te stel, ʼn personeelnuusblad saam te stel (skryf, redigeer en ontwerp), en om verslae en artikels vir digitale media aan te pas. Die tweede deel is gemik op ʼn organisasie se eksterne gehore en gee aan studente ʼn blik op mediabetrekkinge en skakeling in die korporatiewe kommunikasie-omgewing. Mediabetrekking behels dat ʼn praktisyn met die massamedia saamwerk om publisiteit vir ʼn organisasie te genereer, of om te reageer op medianavrae. Studente leer in ʼn praktykgerigte omgewing onder meer om volhoubare verhoudings met joernaliste te bou en om nuusverklarings te skryf.