Kunsgeskiedenis

 

Wat doen ʼn kunshistorikus (kunsgeskiedkundige)?

Kunshistorici bestudeer kunswerke en hul kontekste om die werke te verstaan en te interpreteer, en ook om die breër konteks waarbinne die kuns geskep en ontvang is, te begryp. Studente wat kunsgeskiedenis bestudeer, kan loopbane volg in verskeie kulturele en artistieke sfere.

 

Waar kan jy werk?

ʼn Kunshistorikus kan by ʼn universiteit, ʼn galery, ʼn kunstenaar se ateljee of ander plek waar werke geskep word, werk. Hy of sy kan ook as kurator en konsultant vir die kunsversameling van ʼn groot organisasie werk in verskeie poste en plekke. Kunshistorici reis dikwels heelwat. Daar is al gesê dat om die wêreld se kuns te sien, is die beste verskoning om die nes te verlaat. ʼn Opgeleide kunshistorikus is buigsaam, aanpasbaar en in staat om in verskeie kontekste te werk. Voorbeelde van loopbane wat uit kunsgeskiedenisopleiding spruit, sluit in:

  • Kunskritikus
  • Kunsjoernalis
  • Galery-eienaar
  • Kurator
  • Kunskonsultant
  • Kunshandelaar
  • Bestuurder van kunstenaars se loopbane
  • Onderwyser
  • Toerismespesialis
  • Navorser
  • Kunsblogger
  • Kunstefeesbeampte
  • Uitgewer
  • Webinhoudskepper
  • Kunsversamelaar
  • Ateljeebestuurder

 

Waarom kunsgeskiedenis aan die NWU studeer?

Die kunsgeskiedenisvakgroep en -programme is dinamies en internasionaal kompeterend, soos bewys tydens ʼn eksterne programevaluering in 2013. Die honneursprogram het die hoogste lof van die paneel van nasionale en internasionale kundiges ontvang.

Studente leer visuele en akademiese vaardighede aan. Die kontaksessies is visueel en intellektueel stimulerend. Lewendige besprekings help studente om oor hul eie idees én die van medestudente te dink. Kunsgeskiedenis as ʼn studieveld komplementeer ander dissiplines in die geesteswetenskappe, soos tale, skryfkuns, antropologie, geskiedenis en filosofie.

 

Toelatingsvereistes

Jy het nie kuns of kunsgeskiedenis as ʼn skoolvak nodig om vir hierdie graadkursus in te skryf nie. Al voorwaardes is matriekvrystelling en belangstelling in kultuur en visuele kunste. Om tot die honneursprogram toegelaat te word, moet ʼn student ʼn gemiddels van 65% behaal in sy/haar derde studiejaar. Studente wat vir ʼn meestersgraad wil inskryf, moet ook 65% behaal in die verpligte honneursmodules. Diegene wat ʼn doktorale studie wil aanpak, moes ʼn punt van minstens 60% vir die meestersverhandeling verwerf het.

 

Kampus van aanbieding

Potchefstroomkampus