Video

Dokumentêre video

Dokumentêre video is ’n spesialisrigting wat sterk fokus op die beplanning, uitvoering en afronding van oudiovisuele narratiewe met ’n feitelike karakter. Beplanning, of voorproduksie, behels nie alleen storieskryf  nie, maar ook elemente soos produksienavorsing, hoe om ’n voorstel saam te stel, die opstelling van ’n begroting, en die toepassing van etiese en regsaspekte in verskeie soorte produksies. Aangesien ons met video werk en nie met film nie, word intensiewe aandag aan aspekte soos videotegnologie en -stelsels bestee. Uitvoering, of produksie, behels die vervaardiging van ’n produksie. Die skiet van stories vereis operasionele vaardighede soos kamera- en klankwerk, maar ook kreatiewe insette soos regie en aanbieding. In afronding of naproduksie, word die roumateriaal geredigeer, stemopnames gedoen, en klankbane gemeng. Dokumentêre video het ’n omvangryke netwerk van oudstudente in die film- en videobedryf, en sommige bedryf hul eie florerende produksiehuise. Studente doen jaarliks ’n internskap by sulke maatskappye. Ons studente kry veral werk as produksiebeplanners, redigeerders en regisseurs, hoewel sommige al hulle merk as kinematograwe gemaak het. Dokumentêre videostudente neem gereeld deel aan nasionale en internasionale rolprentfeeste, en verskeie produksies het gesogte toekennings gewen.

 

'n Dokumentêre rolprent deur Liesl-Dana van Schalkwyk, wat by talle internasionale rolprentfeeste vertoon is, as deel van haar MA-graad in dokumentêre video onder leiding van prof. Attie Gerber. Hierdie dokumentêre prent vertel die verhaal van hoe gewone mense in droë gebiede bewaring en verwoestyning hanteer.

'n Dokumentére rolprent deur Mené Meyer onder leiding van prof. Attie Gerber vir die graad BA Honneurs in dokumentêre rolprent.

 

Hierdie dokumentêre rolprent deur die honneursstudent Danie van der Westhuizen handel oor moontlike oplossings vir die renosterstroopprobleem in Suid-Afrika. Studieleier: Prof Attie Gerber.

Voorbeelde van studente se werk

Video deur honneursstudente in 2016.