Akademiese Geletterdheid

Beskikbaar op die Mahikeng-, Potchefstroom- en Vanderbijlparkkampus

Akademiese geletterdheid verwys na die vermoë om tekste in die akademiese omgewing suksesvol te navigeer, te verstaan, te interpreteer en te produseer. Ongeag wat jou studiegebied is, jy sal akademiese tekste moet kan lees en verstaan, en om jou begrip daarvan te toon, sal jy inligting in die vorm van opstelle, werkopdragte, eksamenvrae en verslae moet produseer om ’n graad suksesvol te kan voltooi. Navorsing het getoon dat daar ’n sterk korrelasie bestaan tussen vermoëns in akademiese geletterdheid en oorkoepelende akademiese prestasie. Ongelukkig is die meeste studente nie ten volle voorbereid vir dit wat op die vlak van tersiêre onderwys van hulle verwag word nie, en dit lei dikwels tot swak studenteprestasie.

Om studente te ondersteun in die verwerwing van hierdie vaardighede in akademiese geletterdheid bied die NWU twee Akademiese Geletterdheid-modules op eerstejaarsvlak aan. Hierdie modules fokus op vaardighede soos hoe om effektief tydens lesings te luister, komplekse akademiese literatuur te lees, inligting uit relevante akademiese bronne verantwoordelik en eties aan te haal, plagiaat te vermy, en akademiese konvensies toe te pas wanneer geskrewe tekste geproduseer word. Ten opsigte van laasgenoemde het twee Franse sosioloë, Bourdieu en Passeron, in 1994 beweer dat akademiese skryfwerk niemand se moedertaal is nie. Dit is daarom dat om akademies geletterd te wees, ’n belangrike aspek van akademiese akkulturasie by universiteite wêreldwyd is. Die Akademiese Geletterdheid-modules van die NWU bied ’n geleentheid om die gaping tussen hoërskool en universiteit ten opsigte van die vereistes vir akademiese geletterdheid te oorbrug en sal jou op die regte pad na akademiese en professionele sukses plaas.

Waarom is akademiese geletterdheid so belangrik?

  • Akademiese geletterdheid is noodsaaklik vir oorlewing op akademiese gebied.
  • Akademiesegeletterdheidsvermoëns is noodsaaklik om akademiese uitnemendheid te bereik en beïnvloed jou akademiese prestasie direk.
  • Om akademies geletterd te wees, sal jou vir nagraadse studies voorberei, wat vereis dat jy jou vermoë vir akademiese geletterdheid bemeester het.
  • Om akademies geletterd te wees, dra tot jou indiensneembaarheid en sukses in die professionele omgewing by.
  • Akademiese geletterdheid ontwikkel komplekse hoërorde-denkvermoëns soos kritiese analise en nadenke.
  • Akademiese geletterdheid bou jou akademiese selfvertroue en help jou om jou eie akademiese stem te ontwikkel.

Kursusinligting

Aan die begin van hulle eerste akademiese jaar skryf studente óf die Test for Academic Literacy Levels (TALL – English) of die Toets vir Akademiese Geletterdheidsvlakke (TAG – Afrikaans). Afhangend van hulle uitslae (risikovlak) word daar van studente vereis om óf vir die modules in Basiese Vaardighede in Akademiese Geletterdheid (ALDE/ALDA 111) en Gevorderde Vaardigheid in Akademiese Geletterdheid (ALDE/ALDA 122), óf slegs vir die module in ALDE/ALDA 122 te registreer. Die inleidende module in Akademiese Geletterdheid, ALDE/A 111, hanteer basiese vaardighede in akademiese geletterdheid op ’n gefragmenteerde manier en fokus op vaardighede soos effektiewe luistervermoë, die lees van ’n teks met begrip, en teksproduksie (parafrasering, verwysing, opstelstruktuur).  Die gevorderde module, ALDE/A 112/122, bou op die vermoë wat in die inleidende module onderrig is, en fokus spesifiek op akademiese skryfwerk. Die ALDE/ALDA 122-module is verpligtend vir alle studente, en die suksesvolle voltooiing daarvan is ’n vereiste om ’n graad te ontvang.

Hierdie modules word tans op die Mahikengkampus net in Engels aangebied, en Engelse sowel as Afrikaanse weergawes daarvan word op die Potchefstroom- asook die Vanderbijlparkkampus aangebied. Albei hierdie ondersteuningsmodules word op ’n dissipline-spesifieke manier benader om seker te maak dat dit verband hou met die inhoud en konvensies wat studente waarskynlik in hulle studiegebied sal teëkom.

ALDA 111

ALDA 111 is 'n inleidende module vir die ontwikkeling van akademiese geletterdheidsvaardighede soos vereis word in 'n universiteitskonteks. Hierdie module word slegs in die eerste semester aangebied en is 'n voorvereiste vir ALDA 112 / 122. Om ALDA 111 te slaag, moet 'n student 'n modulepunt van minstens 50% behaal.

Met die suksesvolle voltooiing van ALDA 111 behoort studente:

  • basiese kennis van leerstrategieë, akademiese woordeskat en register asook die lees en skryf van akademiese tekste te demonstreer ten einde doeltreffend binne die akademiese omgewing te funksioneer;
  • op gepaste wyse binne ʼn akademiese omgewing effektief skriftelik as individu en as lid van ’n groep te kan kommunikeer;
  • basiese akademiese tekste te verstaan, interpreteer, evalueer en op koherente wyse binne toepaslike akademiese genres te kan skryf deur gebruik te maak van akkurate en toepaslike akademiese konvensies; en
  • binne ʼn etiese raamwerk akkuraat, vlot en toepaslik te kan luister, praat, lees, skryf en leer.

Let daarop dat studente in die fakulteite Regte en Natuurwetenskappe verplig is om ALDA 111 as deel van hulle kurrikulum te neem. Die enigste uitsonderings is studente in die volgende programme: Kwantitatiewe Risikobestuur, Finansiële Wiskunde, Data-ontginning Aktuariële Wetenskap, Inligtingstegnologie en Stads- en Streeksbeplanning. Hierdie uitsondering geld slegs as die vereiste kode in die TAG behaal is.


ALDA 112 / 122

ALDA 112 of ALDA 122 is die gevorderde module in akademiese geletterdheidsvaardighede en is verplig vir alle studente, sowel kampus- as afstandstudente, ten einde die suksesvolle voltooiing van hul graad.

Die doel van hierdie gevorderde module in akademiese geletterdheid is om studente te ondersteun in die ontwikkeling van die vaardighede om effektief te kan lees en skryf, onafhanklik navorsing te kan doen en om werk wat akademies korrek is, te kan lewer. Die student leer dus hoe om akademiese inligting suksesvol te verwerk en op ʼn akademiese verantwoordbare wyse daarmee om te gaan om sodoende self ook akademiese inligting te kan produseer.

Hierdie modules word in beide die eerste (ALDA 112) en tweede (ALDA 122) semester aangebied en die student volg óf ALDA 112 óf ALDA 122, afhangende van TAG-uitslae of fakulteitsvoorskrifte. Studente wat nie ALDA 111 hoef te neem nie, word volgens fakulteit ingedeel vir ALDA 112/122. Dié indeling is soos volg:

Semester 1:

  • BWI-studente (Kwantitatiewe Risikobestuur, Finansiële Wiskunde, Data-ontginning, Aktuariële Wetenskap, Inligtingstegnologie)
  • Stads- en Streeksbeplanning
  • Geesteswetenskappe
  • Teologie
  • Gesondheidswetenskappe

Semester 2: 

  • Natuur- en Landbouwetenskappe
  • Opvoedkunde
  • Ekonomiese Bestuurswetenskappe
  • Regte

Plasingstoetse

Alle nuweling-studente moet ʼn verpligte Toets van Akademiese Geletterdheid (TAG) aflê. Die TAG is ʼn verpligte plasingstoets wat gedurende die verwelkomingsperiode in Januarie geskryf word. Hierdie plasingstoets dien as ʼn riglyn om te bepaal watter akademiese geletterdheidsmodule(s) gevolg moet word.

Die vakgroep Akademiese Geletterdheid (Fakulteit Geesteswetenskappe, Skool vir Tale), as deel van die NWU, is ook 'n vennoot van die Inter-institusionele sentrum vir taalontwikkeling en assessering (ICELDA). ICELDA is verantwoordelik vir die ontwikkeling en verspreiding van die TAG (TALL vir die Engelse studente) wat elke nuweling-studente moet skryf. Hierdie akademiese geletterdheidsvaardighede is krities tot studente se akademiese ontwikkeling en sukses. Verder is hierdie vaardighede, waarop daar in die onderskeie modules gefokus word, ook van kardinale belang in studente se toekomstige beroepslewe.

Wat meet die TAG?

Die TAG meet verskeie basiese akademiese geletterdheidsvaardighede wat ʼn student nodig het om optimaal in ʼn akademiese omgewing te funksioneer, byvoorbeeld die vermoë om ʼn akademiese teks met begrip te lees.

Kan ek voorberei vir die toets?

TAG is nie ʼn toets waarvoor ʼn student kan leer nie. Dit is wel 'n uitdagende toets en daarom is dit belangrik om genoeg slaap die aand voor die tyd in te kry.  Studente kan wel na 'n voorbeeldtoets gaan kyk.

Klik hier vir ʼn aanlyn voorbeeld van die TAG: https://icelda.com/sample-tests/Ek het op skool onderskeidings gekry; waarom moet ek die module neem?

Daar is nie noodwendig ’n verband tussen studente se TAG-uitslae en hulle taalvakke (en ander vakke) se matriekuitslae nie. Die TAG bepaal of ʼn student taalmatig in die akademiese omgewing sal kan funksioneer, terwyl taalvakke op skool grootliks taalkundige ontwikkeling ten doel het.

Rooster en TAG-uitslae

TAG-uitslae

Jy sal jou studentenommer nodig hê om jou resultate te kry.

Gedurende die TAG het jy ʼn inligtingstuk ontvang met belangrike inligting in ʼn groot pers blok. Hierdie inligtingstuk verduidelik ook wat die TAG-uitslae beteken en watter ALDA-module(s) ʼn jy moet neem. Hierdie inligtingstuk moet DEEGLIK deurgelees word.

 

Potchefstroomkampus

Indien jy nie die TAG op die geskeduleerde datums geskryf het nie, moet jy so gou as moontlik die adminastratiewe kantoor kontak vir verdere inligting.

 

Vanderbijlparkkampus

Indien jy nie die TAG op die geskeduleerde datums geskryf het nie, moet jy so gou as moontlik die adminastratiewe kantoor kontak vir verdere inligting.

Kontakbesonderhede vir meer inligting

Rig navrae aan:

Mahikeng-kampus

Me. Daisy Motsaathebe

AdministrateurE-pos: 
Daisy.Motsaathebe@nwu.ac.za​

of 
ALDE-MC@nwu.ac.za

Tel: +27 18 389 2638
 

Potchefstroom-kampus

Me. Karien Seymore 

Senior Administratiewe AssistentE-pos: ALDEA-PC@nwu.ac.za

Tel: +27 18 299 1045 / +27 18 285 2612

Gebou: F4-108A,

 

Vanderbijlpark-kampus

Me. Tsebo Mothibedi

AdministrateurE-pos: tsepo.mothibedi@nwu.ac.za​

of

ALDEA-VC@nwu.ac.za

Tel: +27 16 910 3509

Gebou: 7-203

 

Interessante skakels​

https://tophat.com/glossary/a/academic-literacy/

https://www.iol.co.za/capeargus/opinion/why-academic-literacy-is-crucial-for-students-16905003

https://www.lifehack.org/322588/how-writing-makes-people-smarter-supported-science