Duits

Beskikbaar op die Potchefstroom- en Vanderbijlparkkampus


Duits is die taal van wetenskaplikes, uitvinders, filosowe, komponiste, kunstenaars, digters en skrywers. Meer as 100 Nobelpryse is al toegeken aan Duitssprekende individue wat hulleself op die gebied van fisika, chemie, fisiologie, medisyne, letterkunde en vrede onderskei het. Waarskynlik die beroemdste Duitssprekende Nobelpryswenner is Albert Einstein.

In die lig van wêreldwye verbintenisse verskaf die Duitssprekende lande en Duits as taal ’n uitmuntende konteks vir besigheid, navorsing, hoër onderwys, toerisme en werkgeleenthede. Die Goethe-Institut sê dat as jy die taal van jou Duitse sakevennote ken, dit jou verhouding met hulle verbeter en jou kanse vir doeltreffende kommunikasie en sukses sodoende verhoog. Die Goethe-Institut is ’n niewinsgewende kultuurvereniging met 159 instellings wêreldwyd. Dit bevorder die studie van die Duitse taal en moedig internasionale kultuuruitruiling en betrekkinge aan. Hierdie instelling wys ook daarop dat ’n kennis van Duits ’n mens toegang verleen tot fassinerende wêrelde in kultuur en geskiedenis, en ook in letterkunde, kuns, musiek en filosofie.

Geskiedkundig gesproke word Duits deur sy talle dialekte gekenmerk. Die vertaling van die Bybel in Duits deur Martin Luther (1534) het egter die basis van Standaardduits of “Hoogduits” geword. Talle dialekte bestaan vandag nog, en elke Duitssprekende land soos Switserland, Oostenryk en Duitsland het sy eie standaardvorm van Duits wat in skole en aan universiteite geleer word, en in die amptelike en professionele lewe gebruik word.  Standaardduits stel ’n mens egter in staat om te verstaan wat in die media en op die internet, in navorsingspublikasies, oor die televisie en die radio, en natuurlik in persoonlike kommunikasie met enige Duitssprekende persoon in enige Duitssprekende land, gesê en geskryf word.

Daar is wêreldwyd ongeveer 220 miljoen mense wat Duits praat. Nagenoeg 95 miljoen mense praat Duits as hulle eerste taal, en 125 miljoen mense wêreldwyd praat en leer Duits as hulle tweede of derde taal. Duits word hoofsaaklik in Duitsland, Oostenryk, Switserland, Luxemburg, België en Liechtenstein, en in Suid-Tirool in Italië gepraat. Duits word egter ook wêreldwyd as ’n lingua franca (’n gedeelde taal onder mense met verskillende moedertale) gepraat. Duits is ’n nasionale taal van Namibië en daar is nagenoeg 12 000 moedertaalsprekers in Suid-Afrika. Meer as ’n miljoen mense in die VSA praat Duits. Ongeveer 50 miljoen Amerikaners is van Duitse afkoms. ’n Tiende van die bevolking in die VK kan Duits praat of dit verstaan. Daar is in Suid-Amerika meer as twee miljoen mense wat Duits kan praat. Daar is verskeie dialekte soos Brasiliaanse, Chileense en Venezolaanse Duits. Duits speel ’n belangrike rol as die lingua franca in Oos-Europa en die Europese Unie. Daar is nie net talle dialekte van Duits in Duitsland en in Europa nie, maar ook wêreldwyd – soos die Standaard- Amerikaanse Duits in die VSA, Barossa Duits in Australië, Volga Duits in Rusland en Jiddisj in die VSA, Israel, Rusland en Europa. 

Die meeste Duitssprekende mense is ernstig oor en baie opreg in hulle erkenning van en berou oor die berugte geskiedenis van Duitsland gedurende die 20ste eeu en die Tweede Wêreldoorlog, wat in 1945 geëindig het. Ten spyte van hierdie onstuimige tye is Duitsland tans aktief by internasionale humanitêre hulp betrokke. Hulle het ook individue soos die beroemde wenner van die Nobelvredesprys, Willy Brandt, en die vryheidsvegters (tydens die Tweede Wêreldoorlog) Sophie en Hans Scholl, Clemens August, Graf von Galen en Claus von Stauffenberg (wat deur Tom Cruise in die 2008-film Valkyrie gespeel is) opgelewer. Nog ’n Duitssprekende wenner van die Nobelvredesprys was Albert Schweitzer.

[Accordion Collapsed]

Waarom Duits studeer?​

Die waarde daarvan vir jou as Suid-Afrikaner om Duits te leer is tweeledig: professioneel en persoonlik. Dit kan talle interessante deure vir jou as student op letterlik enige studiegebied, asook later in enige professionele arena, oopmaak. Duits bied toegang tot opwindende wêrelde van inligting, vaardighede en ervarings. ’n Nuwe taal soos Duits maak mense en tekste vir jou toeganklik. Op persoonlike vlak kan dit jou horisonne verbreed. Jy kan ná ’n paar uur op ’n vliegtuig in Duitsland, Switserland of Oostenryk wees. Jy sal daar ongelooflike en wonderlike wêrelde met ’n magdom fassinerende stede, kastele en katedrale vind. Jy sal ook museums, woude, sneeubedekte berge en magiese Kersmarkte kan sien. Jy kan dit alles net in die Duitssprekende lande ontdek. Die aanleer van ’n nuwe taal is ’n individuele keuse en proses. Dit kan soos ’n stokperdjie met loopbaanvoordele wees. As jy nuuskierig is oor ander kulture, tale en letterkunde, is dit pret én dit kan tot jou professionele sukses bydra. Jy kan op enige tydstip in jou lewe leer om Duits te praat en dit baie geniet, maar as jy dit nou doen, sal dit jou in staat stel om op enige ander plek in die wêreld daarmee voort te gaan. Jy kan dit selfs in Duitsland doen, waar jy jou vaardighede kan slyp. Die Vakgroep: Duits aan die NWU maak dit vir jou maklik en aangenaam om Duits te leer praat, verstaan, lees en skryf. Die dosente is vriendelik en goed bekend met die bewese, moderne leerbenaderings en materiaal wat jou as ’n universiteitstudent sal pas.

Kursusinligting​

Die Vakgroep: Duits werk nóú saam met die Duitse Akademiese Uitruildiens (DAAD) en die Goethe-Institut. Die Vakgroep: Duits (Potchefstroomkampus) is ook een van die Goethe-Institut se gelisensieerde toetssentrums vir individue wat ’n sertifikaat in die Duitse taal op vaardigheidsvlak B1, B2 en C1 wil verwerf. (Besoek die webwerf van die Goethe-Institut by www.goethe.de.)

Ons onderrig is kommunikasie-georiënteerd en het ’n transkulturele benadering wat daarop fokus om:

  • Duits in alledaagse geselssituasies te verstaan en te praat.
  • ’n Wye verskeidenheid verskillende Duitse tekste te lees.
  • ’n Wye verskeidenheid Duitse tekste te skryf.
  • Kennis te verwerf van Duitse grammatika wat vir elke vlak geskik is en wat die kommunikasievermoëns ondersteun wat ontwikkel word.
  • Kennis van die Duitse ekonomie te verwerf en in besigheidskontekste in Duits te kommunikeer. (Laasgenoemde hou spesifiek met die Sake-Duits-modules verband.)
  • Oor Duitse letterkunde en die geskiedenis van letterkunde te leer Aan die begin van die tweede jaar begin studente ’n “letterkundige reis” wat in die Barok-era begin en op voorgraadse vlak met eietydse letterkunde eindig. Die doel van hierdie fokus is om studente in staat te stel om kennis oor Duitse letterkunde, kultuur en geskiedenis te verkry, maar ook om terselfdertyd hulle kommunikasievermoëns te ontwikkel.

Moontlike beroepsgeleenthede

  • Kennis van Duits kan loopbaanmoontlikhede in die volgende velde skep:
  • Die toerisme- en gasvryheidsindustrie;
  • Handelsverhoudinge;
  • Vervaardiging en produksie;
  • Internasionale werk vir Duitse maatskappye en organisasies wat ook met hierdie vennote of kollegas in Duitssprekende lande skakel;
  • Internasionale skakelwerk;
  • Professionele dienste (bv. versekering, wetlike konsultasie, internasionale belastingbeplanning, beleggings, ens.)
  • Loopbane in die lugvaartsdiens;
  • Wetenskap;
  • Ingenieurswese;
  • Inligtingstegnologie;
  • Mediese dienste;
  • Diplomatieke diens;
  • Musiek;
  • Teologie;
  • Advertensiewese en bemarking;
  • Filosofie.
  • Duits kan die individu in die meeste studie- en navorsingsvelde ondersteun, bv.:
  • Ekonomiese en Bestuurswetenskappe;
  • Regte;
  • Teologie;
  • Opvoedkunde;
  • Ingenieurswese;
  • Gesondheidswetenskappe;
  • Natuurwetenskappe;
  • Landbouwetenskappe en
  • Geesteswetenskappe (wat Kommunikasiekunde, Sosiale wetenskappe en Owerheidstudies insluit).
  • Die individu wat in die Geesteswetenskappe opgelei word en Duits leer, kan die volgende word:
  • ʼn taalpraktisyn wat op Duits fokus (wat proeflees en redigering insluit);
  • ʼn vertaler;
  • ʼn tolk;
  • ʼn joernalis;
  • ʼn akademikus;
  • ʼn navorser;
  • ʼn onderwyser of dosent;
  • ʼn werknemer van ʼn uitgewer;
  • ʼn werknemer in buitelandse kliëntediens en/of ʼn gespesialiseerde administratiewe werknemer;
  • ʼn werknemer in die uitsaaiwese;
  • ʼn taalpraktisyn vir die regering;
  • ʼn private taalpraktisyn;
  • ʼn kopieskrywer;
  • ʼn kreatiewe skrywer;
  • ʼn onderwyser of dosent.
  • Volgens die Goethe-Institut bied Duits ook toegang tot kulturele begrip en persoonlike genot aan literatuur, kuns, musiek en filosofie wat ʼn mens se horisonne ook in jou loopbaan verbreed.

Interessante skakels​

 

[/accordion]