Setswana

Beskikbaar op die Mahikeng- en Potchefstroomkampus


Setswana is ’n inheemse Afrikataal wat aan die Sotho-taalgroep van die Sintu-taalfamilie behoort. Dit is ook die taal wat die Batswana praat. Dit is ’n groep stamme van Sintu-herkoms wat ’n beduidende deel van die bevolking van die land Botswana uitmaak.  Setswana is een van Suid-Afrika se 11 amptelike tale, en word ook in Botswana, Namibië en Zimbabwe gepraat. Dit word dus deur African Academy of Languages (ACALAN), as ’n oorgrenstaal en deur die Suid-Afrikaanse Kwalifikasie-owerheid (SAKO) as ’n skaars vaardigheid beskou. Setswana-sprekers is die vyfde grootste taalgroep in Suid-Afrika en word hoofsaaklik in Noordwes aangetref. Die taal word deur meer as vier miljoen mense gepraat, wat ongeveer 8% van die Suid-Afrikaanse bevolking uitmaak.

Die eerste belangrike werk oor Setswana is geproduseer deur die Britse sendeling Robert Moffat, wat onder die Batlhaping gewoon het en die Bechuana Spelling Book, ’n Bechuana Catechism, asook ’n aantal Bybelboeke gepubliseer het. Setswana is reeds sedert die 18de eeu ’n onderwerp van studie en skryfwerk, en dit is die eerste Suid-Afrikaanse Afrikataal waarin Bybeltekste en werke van Shakespeare vertaal is.

[Accordion Collapsed]

Waarom Setswana studeer?​

 

  • Taal is een van die elemente wat help om ’n sterk gevoel van kulturele identiteit te skep asook ’n gevoel dat jy aan ’n samelewing behoort.
  • Afrikatale is belangrik omdat maatskaplike, politieke en ekonomiese ontwikkeling op die vasteland van die behoorlike en sistematiese gebruik van verskillende inheemse tale afhang.
  • Analitiese en skryfvaardighede wat deel is van die Setswana-kurrikulum is instrumenteel om studente te help om in talle ander universiteitskursusse sukses te behaal.
  • Meertaligheid bevorder interpersoonlike kontak en begrip en maak dus deure oop.
  • Taalkundige kennis van Setswana kan tot ’n groot mate op sy sustertale, Suid-Sotho en Sepedi, toegepas word, maar ook op die Nguni-groep tale, en daarom op die oorgrote meerderheid Afrikatale in Suid-Afrika. 
  • Vaardighede wat in taalkundige en letterkundige studie verwerf word, bevorder vakkundige interaksie en prestasie.
  • Die studie van Setswana verryk jou akademiese rekord en jou CV en vermeerder dus jou werkgeleenthede.

Kursusinligting​

Studie in Setswana stel eerste-, tweede- en derdetaalsprekers aan die letterkundige werke sowel as grammatikale aspekte van hierdie Afrikataal bloot. Ons akademiese voorgraadse kursus loop van eerstejaars- tot derdejaarsvlak, en maak toelating tot honneursgraad-, meestersgraad- en doktorale studies moontlik (indien jy aan die minimum vereistes voldoen). Die voorgraadse programme vir die twee groepe sprekers (moedertaal- en niemoedertaalsprekers) verskil ten opsigte van die letterkundige werke, grammatika en kommunikasievaardighede wat onderrig word. Setswana as hoofvak maak die pad oop na vele loopbaangeleenthede soos joernalistiek, onderwys, die uitgewersbedryf, vertaling, tolking, terminologie-ontwikkeling, taalbeleidsontwikkeling en taalbestuur.

Dit is die dominante taal in Noordwes, en hier by die NWU is ons trots daarop dat ons Setswana deur middel van Setswana (Setswana-ka-Setswana) as eerste taal onderrig.

Setswana vir eerstetaalgebruikers Orature​

Bestudering van Setswana stel studente in staat om taalkundige en letterkundige onderwerpe deeglik vanuit ’n wetenskaplike en vakkundige oogpunt te benader. Die geskiedenis van letterkunde word ondersoek, terwyl letterkundige teorieë toegepas word om nuwe en relevante interpretasies van gedigte, romans en toneelstukke te vind. Die onderrig van Setswana aan eerstetaalsprekers fokus op:

 

  • Die studie van mondelingse letterkunde en kulturele semiotiek
  • Fonologie en fonetiek (wetenskaplike studie van spraakvoorstelling en spraakklanke)
  • Morfologie (wetenskaplike studie van woordvorming)
  • Semantiek (wetenskaplike studie van betekenis)
  • Sintaksis  (wetenskaplike studie van sinstruktuur)

Setswana verskaf ’n uitstekende basis vir die vergelykende studie en aanleer van ander soortgelyke Sintu-tale van Afrika (Zoeloe, Xhosa, Tsonga, Swahili, Shona, Lozi).

Setswana vir tweede- en derdetaalgebruikers

Setswana vir tweede- en derdetaalsprekers is toeganklik vir niesprekers van die taal en behels die volgende:

 

  • Die grammatika van Setswana word van ’n basiese grammatikale beskrywing van die taal bekendgestel, en voorgraadse studie word met ’n goed gebalanseerde taalkundige kennis van die taalkundige dissiplines van fonetiek en fonologie, morfologie, sinsbou en basiese semantiek afgesluit. Die teorie en voorbeelde word op ’n derdetaalvlak toegepas.
  • Taalverkryging word deur die praktyk van luister-, lees-, skryf- en praatvaardighede bevorder.
  • Die studie van tradisionele en moderne Setswana-letterkunde stel kandidate aan die ryk letterkundige skatte van Setswana-digkuns, -prosa en -drama bekend. Dit help hulle om met die Setswana-kultuur vertroud te raak.

"As jy met iemand in ’n taal praat wat hy verstaan, praat jy met sy kop. As jy met hom in sy taal praat, praat jy met sy hart "– Nelson Mandela.

Moontlike beroepsgeleenthede​

  • Onderwys (in kombinasie met 'n nagraadse onderwyssertifikaat/-diploma)
  • Akademie & navorsing (gewoonlik binne 'n tersiêre omgewing)
  • Vryskutskryfwerk
  • Vertaalwerk & tolking
  • Joernalistiek
  • Kommunikasiesektor: radio-uitsendings & televisie
  • Openbare betrekkings
  • Kopieskryfwerk & redigering
  • Uitgewersbedryf
  • Leksikografie
  • Inhoudsbestuur
  • Taalpraktisynswerk (private & staatsektor)
  • Administratiewe werk
  • Taaltegnologie (in kombinasie met 'n graad in taaltegnologie)
  • Nuttige byvoeging tot beroepe in die reg, biblioteke en maatskaplike wetenskappe

Interessante skakels​

 
[/accordion]